Posted in Afrikaans

Woordversamelaar


versamel (ww.) het versamel 1. bymekaarbring; bymekaarmaak; vergaar 2. bymekaarkom, vergader
versamelaar (s.nw.) versameling (s.nw.)
Definisie: Om bymekaar te maak van ’n verskeidenheid plekke oor ’n periode van tyd.
akkumuleer, ophoop, skatte versame
l

Sy het ’n sak oor haar skouer gedra. Soos ’n Kersvader in Julie – nie jolig en rooi en propvol geskenke nie, maar vaal en verslete. Sy het oral geloop, altyd afgekyk en soms iets opgetel. Partymaal het sy dit in ’n asblik gegooi en ander kere het sy dit met ’n dowwe geel stoflap skoongevee en versigtig in haar sak geplaas.

Sy was sonverbrand en windverwaai. Sy was dakloos, haweloos, ontheem. Maar as jy haar kon vra en sy jou kon antwoord, sou sy gesê het dat nie een van daardie woorde haar raak beskryf het nie. Sy sou dalk vir jou verduidelik het dat “dakloos” steeds mure, deure en vensters gehad het. ’n Skip kan “haweloos” wees, nie sy nie. En wie gebruik nog die woord “heem” om na ’n woonplek of ’n werf te verwys? As sy met jou sou praat, het sy dalk vir jou verduidelik dat “heem” ook ’n rooi, ysterbevattende, respiratoriese pigment is wat die nieproteïengedeelte van ‘n hemoglobienmolekule uitmaak, dieselfde as protoheem en ferroprotoporfirien. Sy sou miskien bygevoeg het, sonder om op te kyk, dat heem verkry kan word deur ’n oplossing van hematine in alkali te reduseer in die afwesigheid van stikstofverbindings.

Maar sy het nie gepraat nie. Nooit hardop nie. Sy het wel woorde om haar hele lewe gehekel. Sy het hulle geweef en ingeryg soos krale. Blink woorde, helder woorde, enige woorde kon sy aanmekaar las: afdraandetjie-weerstandbiedendheid-gemsbokkomkommerplant-suurklontjie-besinkingstenk-oblaat[1]-klikkerig-waatlemoenkonfyttoebroodjie-wentelbaan-ellipsgewelf[2]. Sy het die woordstringe om haar nek gedra en soos ’n bidsnoer tussen haar vingers gevryf vir genade. Sy het fyn gespinde woordkoordjies om haar polse en enkels gedra, en hulle het geklingel as sy loop. Sy het skotsbonte woorde in haar hare gevleg, soos vere, linte en stukkies wol.

Sy was die woordversamelaar.

Op alle plekke het sy woorde opgetel. Sy het hulle met ’n vlindernet gevang wanneer hulle uit die oop deure van ’n huis gewarrel het. Soms het sy aan die ander kant van die pad by ’n kleuterskool gestaan en die huppelende woorde oor die heining met haar hande gegryp en vinnig in haar sak gestop. Sy het deur die gange van winkelsentrums geloop en brokkies van gesprekke bymekaar gemaak. Snippertjies, fragmentjies en repies, niks was te klein om te versamel nie. Van tyd tot tyd het sy naby ’n restaurant gaan sit. Dan het sy ’n notaboekie uitgehaal en geskryf. Die pen het oor die bladsy gedartel, soos ’n kind wat oefen nadat die res van die span reeds huis toe gegaan het: heen en weer tussen die lyne, heen en weer. Sy het een keer in die ontvangslokaal van ’n hospitaal gesit, maar die woorde daar was te skerp om vas te hou en het haar hande stukkend gesny.

Haar gunstelingplek was die omgewing rondom die universiteitskampus. Studente het kumulus-woordwolke om hulle gekondenseer, hoog opgestapel en altyd gereed om uit te sak in ’n stormagtige gedreun: “leksikograwe”, “sjampanjesosialiste”, “wêreldbeskouing”, “bevestigingsvooroordeel”, “skeppingslegendes” en “oorgangsrituele”.

Snags het sy op ’n bushaltebankie geslaap en die ander mense wat ook nie dakke, mure of deure gehad het nie, het oor haar gekyk, van die ander kant van die pad af, maar naby genoeg sou sy skree. Sy het die kos wat sy opgetel het sonder ’n woord met hulle gedeel en hulle het los woorde, soos klein geskenkies, op haar bankie gesit: Shtoom[3], idioom, aksioom[4], metronoom, disselboom, chromosoom …

Saans het hulle op die sypaadjie teen die heining van die winkelkompleks vuur gemaak en hulle hande oor die oranje kole warm gehou. Hulle het saggies oor haar gewonder en stories vertel wat nooit herhaal sou word nie.

Met haar rug teen die harde plank het sy op die grond voor die busbankie gesit. Sy het die woorde met omsigtigheid uit die sak gehaal en soort by soort op hopies gepak. Van party woorde was daar baie, te veel: “maak gou”, “nee”, “luister tog net”, “nie nou nie”, “ek praat nie weer nie”, maar ander woorde het sy soos juwele noukeurig een kant gelê: “katastrofe”, “staafspiraalsterrestelsel”, “waterfiskaal”, “nastergal”, “tjoeftjaf”, “obsidiaan[5]”, “ekspedisie”, “maansverduistering”, “kaalperske”, “nonnetjiesuil”, “jamaikagemmer”, “tjintjilla”. Hierdie woorde het sy gevryf tot hulle geblink het in die lig en geskitter het in haar oë. “Jobbelsee” het sy gepoets tot dit prentjies van branders in haar oë gekaats het.

Die nuwe man het een middag sy trollie, boordensvol gelaai met herwinbare papier en koerante, langs haar bushalte parkeer. Hy het nie geweet dat sy alleen wil wees nie en het haar met sy baie woorde toegegooi. Wippende woorde wat bollemakiesie geslaan het en ondeund in alles geloer het.

Hy het vertel van die boerboel wat veerkragtig teen die sekuriteitshekke opgespring het en met spitswit tande gegryns het. Hy het van die hobbelende kinders vertel wat in die soel hitte van die middag deur die sproeier op die gras gegly het en mekaar met waterballonne bestook het. Hy het met sy mond vol woorde geskater en haar vertel van die seuns wat op die laerskoolrugbyveld agter ’n bal aangehol het en die begeesterde onderwyser wat met ’n fluitjie orde in die chaos probeer blaas het. Die mans aan die oorkant van die pad het gewink en hom met wilde handswaaie probeer weglok, maar hy het ál nader aan haar versameling gestaan. Sy het “kristalvaas”, “glaskandelaar”, “kantklos”, en “kaalvoetspore” nader aan haar getrek sodat hy nie per ongeluk daarop kon trap nie. Sy was nie bang nie, net versigtig.

Hy het lawaaierig gelag, soos ’n laatmiddag storm oor Pretoria.

“Ek is Boskasie,” het hy hom voorgestel, maar sy het steeds niks gesê nie, net stil geglimlag.

“Ek kom van Tonteldoos af, ek het al die pad gestap tot hier, ek trek my waentjie en tel koerante en papiere op soos ek loop, ’n mens kan geld kry vir ander se ou woorde en sinne, ek knip die mooi woorde uit as ek kan, ek vou hulle versigtig kleiner op, ek pruim hulle soos tabak, rol hulle in my kieste rond, een keer moes ek selfs daarmee vuur maak, maar daaroor kry ek skaam, woorde is heiligheid op papier en behoort nie in rook op te gaan nie, as dit egter ’n saak van lewe of dood is, dan mag mens maar, solank jy dit met ’n gebed in jou hart doen, dit maak nie saak vir wie jy bid nie, dit moet net biddend gebeur, verkieslik met jou oë toe dat jy nie die vlamme sien nie …” Sý oë het soos gepoleerde albaster geblink.

Miskien het sy woorde vir eers opgeraak of dalk was daar niks meer om te sê nie. Sy het met skrefies na hom gekyk en “kabosjon” op haar growwe palm na hom toe uitgehou. Die mans aan die oorkant van die pad het oopmond gestaar. So iets het hulle nog nooit gesien nie. Hy het die blink gepoetste edelsteen versigtig gevat en sy hande biddend daaroor gevou.

“Ek sien jou,” het hy sag gefluister.

Hy het kerplaks langs haar gaan sit en “triestig” en “melankolies” voor haar voete weggevee en “uitbundig” en “applous” soos geskenke voor haar gelê. Sy het “eensaamheid” uit haar sak gehaal en met gebarste hande na hom toe uitgehou. Hy het in sy broeksakke gevoel en “joggemlangasem” en “floëem[6]” afgestof. Sy het ’n wenkbrou gelig en dit vinnig by hom gevat, voor hy dit kon terughou.

“Ons kan stene maak,” het hy gesê, “die woorde met sand en sement meng, hard bak en mure bou, ons kan dakkappe vleg en woorde laag op laag soos teëls lê om die reën en wind en weer uit te hou, ons kan sinne vir vensters en meubels ruil en ’n groentetuin begin; my pakkaas en jou kaboedel saamgooi, en lamé[7], moeselien en sjantoengsy voor die vensters hang, van penswol kan ons lakens weef, van rousteen kan ons ’n toring bou, ’n fort vestig, ’n veiligheid smee …”

Sy het haar vingers oor sy lippe gesit, nie om die woorde te stop nie, maar om hulle teen haar vel te voel, die bewing van sy asem, die wind van sy longe teen haar palm. Sy het geknik.

Die verbinding was eg. Naatloos was hulle aan mekaar geknoop. Hy het sy trollie gesleep en sy het haar sak gedra. Woorde het altyd soos herfsblare om hom rond gedwarrel en sy het stil-stil die mooistes uit die lug gepluk. Sy was bemin.

Een min een was twee tesaam.

Saam-saam het hulle fladderende woorde en ruimtelose sinne opgetel en aanmekaar getimmer. Sonder konkrete plan, maar al langs die lyne van die droom. Saam-saam het hulle lugspieëlings gevang, sfere aanmekaar gestik en net hulleself al vaster gedraai in iets wat blote woorde nooit sou kon beskryf nie. Kosmies. Ongekend op hierdie ondermaanse. Saam-saam vasgemessel, nooit weer los van mekaar.

Die slag was oorverwoestend. Die nagalm het om haar getol soos ’n draaiende derwisj. Ingeduik het die vragmotor aan die kant van die pad tot stilstand geruk. Die vrag op die trollie het oopgebars en vlinderwoorde het in die wind gewapper, soos as op alles neergesnuif, verpoeier. Stof het in haar oë gewaai en die trane het modderstrepe oor haar wange getrap. Grepe letters het losgeruk. Fraksies en flarde het weggefletter. Sy geliefde lyf was verpletter. Van gees en genade het niks oorgebly nie.

En so, sonder waarskuwing, was een min een weer eensaam.


[1] offerbrood

[2] gemesselde oordekking waarvan die binnewelflyn ellipsvormig is

[3] iets stilhou, geheim hou

[4] ’n stelling wat nie bewys is nie, maar as grondslag vir ander stellings aanvaar word; onbewysbare/vanselfsprekende waarheid

[5] ‘n glasagtige, gewoonlik swart vulkaniese gesteente met skulpvormige breking wat deur die vinnige afkoeling van lawa, gewoonlik riolietmagma, gevorm word; sin. lawaglas, vulkaniese glas

[6] sagter deel v.d. veselweefsel van bas teenoor die harder of houtweefsel

[7] weefsel met goud- of silwerdraad

Hierdie artikel is op 4 Februarie 2022 op VryeWeekblad publiseer
https://www.vryeweekblad.com/mense-en-kultuur/2022-02-03-die-woordversamelaar/

Posted in Afrikaans

O gaats! Dis dan 2022!

Kan julle die Groot Vrees vir Y2K onthou? Die Millennium Gogga agter die rekenaarkode om kalenderdata te formateer en bêre het op loer gelê en gewag om Die Lewe soos Ons Dit Geken Het onherroeplik te verander. Wiki probeer dit verduidelik en ek het die volgende afgelei: die manier waarop kode programmeer is, het gemaak dat rekenaars nie die verskil tussen die jaar 2000 en 1900 kon verstaan nie want programmeerders is – soos die meeste van ons – inherent lui en het na ‘n jaartal verwys as 45 of 99, nie 1945 of 1999 nie. Industrieë wêreldwyd sou tot ‘n val kom. Dink net vir ʼn oomblik so daaroor: jy wil die geboorte van jou kind die 2de Januarie 2000 registreer, maar Binnelandse Sake se rekenaar herken net 1900 as ‘n geldige datum. Nou is jou kind 70 jaar ouer as jy wat in 1970 gebore is en ook op die stelsel ‘n inskrywing het. Vliegtuie sou val, banke sou sluit, regerings sou op hulle knieë gedwing wees.

Ek onthou ‘n gesprek in die laat negentigs in ‘n groep waar iemand vertel het haar broer werk in IT. Iemand anders het gevra of daar na Y2K nog ‘n toekoms in IT sal wees.

Maar soos die meeste peste, het dit ook gekom en gegaan. Nou weet ons dat daar inderdaad toe ‘n blink toekoms in informasie tegnologie is. Dink jou vir een oomblik in of daar enige iets is wat jy doen of gebruik wat nie deur rekenaarkode beheer word nie.

Maar, dêmmit, is dit nodig dat die tyd so vinnig verby gaan? Kan iemand nie ‘n stukkie kode uitdink om vakansies langer te maak en werkstyd … meer bevredigend nie?  

Ek het nie verdwyn nie. Ek gaan nog baie skryf, maar ek sukkel om 2022 in die oë te kyk. This too shall past.

Posted in Afrikaans

Die hiërargie van harde werk

My lewensmaat ry obsessief-kompulsief fiets. Staan in die donkerste van die nag op om teen kwart voor vier op die pad te kan wees wanneer dit nog stil en die verkeer min is. Bykans nie ’n dag gaan verby nie dat hy by die huis kom en sê: “Terwyl ek fietsgery het, het ek gedink …” en dan volg diep deurdinkte insig in ’n onlangse lewensvraag of sommer die wêreld in sy geheel.

So staan ek vanoggend en skottelgoed was en dink – soos ons doen in die Tyd Van Die Pes, want ons kan nie ons swart huishoudster met ’n taxi hierheen laat kom nie; nie met die onderliggende gesondheidsrisiko’s vir my en die lewensrisiko’s vir haar en haar gesin nie. Ek spons en was en seep en spoel af terwyl my gedagtes van my af wegloop en met nuwe waarhede terugkom.

Daar was juis verlede week weer ’n SMS in die koerant van ’n man wat sê dat hy en sy familie hard gewerk het om te kom waar hulle vandag is, en dat dit nie is omdat hulle wit en bevoordeel is nie. En hy is nie verkeerd nie. My pa het vir ons vertel hoe hulle as kinders in die winter kaalvoet skool toe geloop het. Hy het ons van “pap en tik” vertel: Hulle was so arm, daar het ’n stukkie vleis aan ’n toutjie bo die tafel gehang en elkeen kon sy pap teen die vleis tik om darem ’n smakie van die vleis te kry. Tot vandag toe weet ek nie of dit waar was of sommer net ’n pa-storie was nie. My pa het voltyds gewerk en deeltyds aandklasse gedraf. Op sy gradeplegtigheidfoto’s is ek en my boetie so vier en twee jaar oud.

Ek het in die Moot grootgeword. Ronel Nel skryf: “Op ’n goeie dag is dit ’n middelklasgebied in die hoofstad met baie skole, kerke, hospitale en parke.” My ouers kon bekostig dat ons in daardie middelklasbuurt grootword en na goeie skole kon gaan, en dat ek en my twee broers al drie naskoolse opleiding kon kry.

Harde werk het my pa daar gekry. Ek het vir die eerste keer die woord “kapok” gehoor toe my pa een dag ná werk by die huis kom terwyl die son nog skyn en my ma vir hom gesê het: “Wil jy hê dit moet kapok?” Hy het hard gewerk. Voortyd, oortyd, naweke, nagte.

Maar, en so bring my gedagtes die ander waarheid aan sy hare nadergesleep, as my vriendin Thandi Skosana in die huis langs ons in die Moot kon gewoon en na dieselfde skole as ons kon gegaan het, het sy dalk ook die geleentheid gehad om universiteit toe te gaan. Dan het sy nie nou saam met haar ma, gestremde broer en seuntjie in ’n HOP-huis in Mamelodi gebly nie. ’n Huis wat deur ’n regeringsgekose tenderpreneur met die goedkoopste materiaal en kortste paaie moontlik gebou is. ’n Huis sonder ’n plafon en met sinkplate op die dak, met gleuwe waardeur jy jou hand kan steek. ’n Huis met mure wat plek-plek te laag is om tot die dak by te kom en soos vingers moet strek om die gate toe te maak.

Dalk, as sy langs ons gewoon het, sou sy nie met ’n taxi werk toe en terug moes ry nie. Ons woon min of meer ewe ver van die kantoor af, maar my rit duur tussen 20 en 30 minute in een rigting. Dit kos haar soms twee ure in die middae om by die huis te kom. Ek het lankal ’n jenewer en tonikum gehad, kos gemaak, die kombuis opgeruim en ’n hoofstuk van my boek gelees, dan kom sy eers by die huis. Dan moet sy kos maak, ’n laerskoolseuntjie met sy huiswerk help en opruim voordat sy wie weet watter tyd in die bed kom, om weer vieruur op te staan om die dag te begin deur die 15km werk toe af te lê en betyds daar te wees. En sý is gelukkig! Sy hoef nie drie-uur in die oggend die eerste bus in Hammanskraal te probeer haal nie.

As sy langs ons in die Moot gewoon het, sou ek nie dekades moes gewag het dat sy soos ’n djin uit ’n bottel in my lewe verskyn nie. Hoe is dit moontlik dat iemand wat jonk genoeg is om my dogter te wees (ek en haar ma is ewe oud) soveel wysheid, insig en vreugde na my lewe kan bring? Hoe is dit moontlik dat iemand wat net 30 jaar oud is reeds soveel lewenswaarhede geleer het wat ek nou tweedehands by haar leer?

Oor die bouers wat die dak moet probeer regmaak en haar telkens in die steek laat (waarskynlik nadat sy hulle reeds betaal het), sê sy: “My friend, it’s part of life.” Ek wil die skarminkels opspoor, dagvaar en by die polisie vir diefstal gaan aangee. Maar ’n mens gaan nie polisie toe as jy swart is nie. ’n Man was reeds bebloed toe hy oor hulle huisie se muur gespring het – ’n week nadat haar TV gesteel is. En toe hulle die polisie bel, arresteer hulle haar ma vir aanranding.

Dit was ’n drama om haar ma uit die selle te kry. Ek wou die polisie vir kwaadwillige arrestasie laat dagvaar, of by die IPID aankla, maar vir die meeste swart mense is hierdie nie opsies nie. Net hierdie week het sy gesien hoe twee mans ’n vrou uit haar motor pluk, in ’n ander een inprop en wegjaag. Terwyl almal net hulle gang gaan, het sy haar seuntjie gegryp en gehardloop. Maar sy dink nie dat sy polisie toe kan gaan nie; al is dit net haar persepsie dat hulle niks sal doen nie, is dit vir haar die waarheid.

By haar het ek van “black tax” geleer. Ek het natuurlik al daarvan gehoor, maar om dit in die praktyk te sien is hartverskeurend. Sy verdien nie ’n groot salaris nie, maar daar is altyd ’n familielid wat gehelp word – of dit nou blyplek in Pretoria is sodat iemand in die stad kan werk soek of babaklere vir ’n verlangse niggie. My wit vel bloos en bloos en bloos, want al wat ek doen, is om vir my broers se kinders boeke te koop.

My wit vel het my in 1991 die kans gegee om universiteit toe te gaan, want my ouers se wit velle het hulle die kans gegee om na goeie skole te gaan en in huise te woon waar die dakke die natuur buite hou. My wit vel het my in 1995 die kans gegee om as ’n au pair in Nederland te werk en in 1996 as ’n “careworker” in Engeland (waar ek blatante rassisme teëgekom het, maar dis ’n storie vir ’n ander dag).

Thandi se grootouers se swart velle het hulle in lokasies vasgekeer en tot sekere soort werk beperk. Skole se standaarde in daardie gebiede was nié wat dit in die Moot en ander “wit” omgewings was nie. Gemiddelde inkomstes vir gesinne met ’n swart vel was aansienlik minder as mense met ’n wit vel s’n.

En dis stééds so.

Thandi werk nie minder hard as ek nie. Sy doen vandag dieselfde tipe werk as ek, maar my salaris is aansienlik meer as hare. Want ek het universiteitspapiere.

Ondanks haar stryd om met haar salaris tot by die einde van die maand te kom, ondanks haar gebrek aan formele opleiding ná skool en ondanks die kolossale verskil in hoe en waar ons grootgeword het, het ons siele op ’n plek ontmoet waar kleur, ouderdom en agtergrond nie belangrik is nie. Ons gesels oor seks en babas, kinders en moederskap, sibbe, ouers en die invloed wat grootouers op ons gehad het. Ons gesels oor Julius en Madiba en Trump, oor grond en ’n regering wat sy eie mense vergeet het.

Ons gesels oor slagofferskap, en haar woede oor die chaos ná die hare-advertensie was tasbaar: “I am so angry that black people are always acting like victims. We have bigger problems … now we are keeping people out of their jobs because of black people always acting like victims. The truth is that our hair is naturally dry, well, not all of us, but so what if someone is saying that! Now they are boycotting all the stores and people are out of work. I am so angry. They [Clicks] apologised, can we move on now … I just don’t get why we must always find a reason to start chaos.”

Die hele ministerie van finansies behoort deur gewone swart vroue vervang te word. Daar is niemand wat met geld kan werk soos ’n arm swart vrou nie. Daar is niemand wat hulle eie huishouding en verskeie familielede en aanhangsels aan die lewe kan hou soos ’n swart vrou met ’n klein beursie nie. (Ag hemele tog, honderde mense gaan hartaanvalle kry hieroor, maar jou saak is jou saak. Ek staan by wat ek sê.)

Max du Preez skryf in 7 September se Nuusbulletin: “Wat is die wortels van vooroordeel en rassisme? Die kort antwoord is: ’n gebrek aan kontak tussen mense.” Daar is geen manier waarop ek liefde vir Thandi sou kon hê as ek haar nie van naderby leer ken het nie. Ek wens sy was my kind, of die suster wat ek nooit gehad het nie. Maar sy is meer as dit. Sy is my hartsvriendin.


Hierdie artikel is op 9 Oktober 2020 op VryeWeekblad publiseer https://www.vryeweekblad.com/menings-en-debat/2020-10-09-die-hirargie-van-harde-werk/

Posted in Afrikaans

Die blou perd

Martha is baie hartseer om die blou perd te sien wegvlieg. Sy het geweet die dag sal kom, maar gehoop dis eers môre, altyd liewer eers môre.

Sy het hom as ‘n klein vulletjie langs die vreemde nes en bloupers eierdoppe gekry, daar aan die onderpunt van die waterval. Sy swart tong het hongerig aan haar vingers gelek. Sy het haar hande in die koel wit water van die waterval gedruk en die verkwikking op sy tong gedrup-drup. Hy het haar hand nader geslurp en gesuig asof sy enige oomblik spontaan melk onder elke vingernael kon uitspuit.

Martha sug en kyk uit oor die geil gras voor haar huisie tot by die grysgroen berge aan die oorkant van die vallei.

Die blou perd het sy vlerke oopgegooi soos ‘n seënende predikant aan die einde van ‘n nagmaalpreek op die langste, warmste Sondag van die kerkkalender, en met ‘n dawerende amen van hoeweval oor die klippers ‘n aanloop gemaak. Hy het sy vlerke oor die geel en groen van die groeiende vallei uitgesprei en in die blou en wit bo die wyd uitgestrekte dale en kranse verdwyn.

Die blaaie van die kerkkalender agter die kombuisdeur is afgeskeur: Januarie en Februarie, verby April en Mei. Junie en Julie se ingevoerde, volksvreemde wintersprentjies ook.

Augustus se bladsy hang aan die laaste krammetjie. Martha ruk dit woes af en frommel dit in ‘n bolletjie. Sy gooi dit in die koolstoof by die droë stompies om vanaand se vuur mee te stook. Sy trap dié kant toe en daai kant toe in haar klein kombuisie, vat ‘n koppie in die wasbak en los dit weer op die afdroograk.

Die plek is leeg sonder die blou asem warm teen haar keel. Sonder sy swartblou oë wat elke beweging gevolg het vandat hy ‘n klein vulletjie was.

Hy was kleiner as enige perd wat sy nog ooit gesien het. Selfs kleiner as die ponies wat sy al op die buurplaas opgemerk het. Natuurlik het sy vir niemand van hom vertel nie. Nie dat hier ooit iemand kom nie. Vandat sy hier in die ou skooltjie bly, sien sy nie mense nie.

Die plaaseienaar het die sandsteengeboutjie in ‘n huisie omskep met ‘n slaapkamer, badkamer en kombuisie. Geen elektrisiteit nie, maar dit pas haar. Saans het sy net die paraffienlamp waarby sy ‘n paar bladsye in haar notaboek skryf en soggens is sy saam met die hoenders op. 

Sy stap na die General Dealer toe as haar seep opraak of as sy suiker nodig het, maar sy praat nie eintlik met die mense nie. Die gewone “Hallo”, “Goed, dankie, en hier?”, maar niemand karring aan haar nie en sy kyk nie op as sy verby hulle loop nie.

Ná sy hom by die waterval ontdek het en soos ‘n baba versigtig in haar arms na haar kombuis toe gedra het, moes sy weer General Dealer toe stap. Sy het stadig met die grensdraad langs geloop, gekyk of sy kon sien wat die buurman se perde eet. Sy het dit selfs oorweeg om deur die drade te klim en nader aan die groot bruin perd en sy skimmelmaat te stap, maar sy is skrikkerig vir diere.

Die man agter die toonbank het sy maag met sy belt teen sy lyf probeer inhou. Hy het byna aan sy rooi suigstokkie verstik toe sy sê: “Perdekos. Asseblief.” Hy het eers lank na haar gestaar en toe in die donker pakkamer verdwyn.

Sy het die sleepgeluid van bokse en sakke oor die vloer gehoor. Sy het die man hoor swets toe klein blikkies van ‘n rak afval en knetterend oor die vloer rol. Sy het die man hoor steun en sug. Hy het gebukkend, met sy breë agterstewe eerste, uit die skemer vertrek gekom. Die goiingsak was vaalbruin van die stof. Sy kon die blokkies teen die goiingsak sien beur. Dit het soos hondekos gelyk.

Net voor sy meer as haar kwota woorde gebruik het (“Is jy seker dis vir perde?”), het sy die perdekopbuitelyn op die sak gesien.

“Dis baie swaar. Het jy ‘n bakkie of ‘n kar? Kan ek een van die werkers stuur om dit vir jou af te laai? Dis mos net hier by die ou skooltjie?”

Sy’t net haar kop geskud, die sak tot by die winkeltrappies gesleep, op haar hurke gaan sit en dit tot op haar skouer getrek. Sy het wankelrig orent gekom, ‘n steierstappie gegee, eers met haar voete skouerwydte gaan staan, diep asemgehaal en toe so geboë afgestap na die huisie toe.

Deur die bloekombos. Verby die kampie met die paar skape in. Al met die verspoelde sandpad langs. Verby die ry vrugteboompies wat die winter net-net oorleef het. Op teen die heuweltjie, langs die groentetuin verby waar haar sonryprooi tamaties skouerhoogte gegroei het en sy elke dag die spreeus met ‘n afdroogdoek weggejaag het. Verby die Land Rover wat sy in Maart langs die huis parkeer het en met ‘n vaalbruin seil toegegooi het en waar die hoenders gereeld eiers agter die wiele gaan lê, op teen die drie trappies tot by haar stoepie. Sy het die sak op die vloer laat val en haar nat gesig met die agterkant van haar hande afgevee.

Sy het die kombuisdeur oopgestoot en voor die kolestofie het die blou vulletjie op ‘n rafelrige handdoek gelê. Sy het ‘n skerp mes van die kombuisrak gevat en die punt van die goiingsak losgetorring. Sy het die garetoiings op die vloer laat val. Die blokkies wat uitgerol het, was liggroen gemuf. Die blou perd het sag gerunnik.

Sy het ‘n hand vol van die perdekos gevat en plat op die vloer by hom gaan sit. Hy het sy kop opgetel en sy kon haarself in sy groot oë weerkaats sien.

Sy het hom die hand vol kos gevoer en nog twee keer weer opgestaan voor hy nie meer geëet het nie. Hy het met sy blou kop op haar skoot aan die slaap geraak.

Hy het vinnig sterker en groter geword. Die koningsblou vlerkies op sy skouers het soos nuwe plantjies deur vrugbare grond gebars en blou vlerke het gou oor elke blad gehang. Die punte van die vorstelike vlerke het aan die grond geraak-raak.

Sy het haar verwonder aan sy kinderlike speelsheid wanneer sy snags die deur oopmaak en hy buite rondhardloop. Hy het soos ‘n jong springbokkie gespring, sy vlerke geoefen soos ‘n duif op die rand van ‘n nes.

Op volmaanaande het sy ‘n donker kombers oor hom gegooi en saam het hulle tot in die bloekombos gestap voor sy hom laat hardloop het. Winternagte het sy asem blouwit voor hom gehang.

Sy het een nag op die kombers aan die slaap geraak en het in die eerste geel strale van die nuwe son teen sy lyf wakker geskrik. Sy kon die diep klop van sy hart teen haar rug voel en het gewonder: “Is sy hart ook blou?”

Martha het die blou perdeveer ‘n week ná hy weggevlieg het tussen haar tamatieplante gekry. Sy het dit opgetel asof dit ‘n pasgebore voëltjie was, dit in haar hande gekoester sonder om te hard daaraan te vat. Sy het dit by haar neus gehou en sy blou sweetreuk geruik.

Sy het die veer in die kombuis op die tafeltjie neer gesit. Sy het lank daarna gestaar voor sy ‘n stoel na haar kamer gesleep en voor die oop kasdeur staangemaak het. Sy het versigtig daarop geklim en die rekenaarsak onder die winterkombers van die boonste rak afgehaal.

Met haar hare gekam het sy met die sandpad langs na die General Dealer toe geloop.

“Goed dankie. Kan ek een van die kragpunte gebruik?”

Die man agter die toonbank se belt was op die heel laaste gaatjie vasgemaak. Hy het geknik. Sy het by een van die kafeetafeltjies gaan sit, die rekenaar uit die bruin leersak gehaal, die swart kabel by die muurprop ingedruk en ‘n e-pos begin tik.

Liewe Ma,

Dit gaan goed. Ek bly in die Vrystaat in ‘n ou skooltjie. Ek het ‘n groentetuin en ‘n paar hoenders. Ek het niks nodig nie.

Dankie dat Ma die tweeling en Pieter se begrafnis hanteer het. Ek kon nie.

Dankie, Ma.

Liefdegroete,

Martha.

Martha het die stuur-knoppie gedruk, die rekenaar opgepak en teruggestap na haar huisie toe. Die bloekombome het lang skadu’s oor die sandpad gegooi en die skape het in die kampie geblêr. Die vrugtebome het groen uitgeloop en was besig om pienk te word van die bloeisels. In haar groentetuin het die tamaties en spinasie in netjiese groen gelid met die blaarslaai, radyse en beet gestaan. Drie hoenders het van die Land Rover se dak haar tegemoet gevlieg.

Op die boonste trappie van die stoep het die blou perd gestaan. Sy vlerke ingevou.

Tuis.


Hierdie kortverhaal is op 20 November 2020 op VryeWeekblad publiseer

https://www.vryeweekblad.com/mense-en-kultuur/2020-11-19-kortverhaal-die-blou-perd/

Posted in Afrikaans

Op ’n tropiese eiland in ’n tyd van afsondering

In die Golf van Bengale, oos van Indië, lê ’n stringetjie van omtrent 300 eilande wat die Andaman- en Nicobar-eilande genoem word. Daar is onder meer die Noord-Andaman-, die Middel-Andaman- en Klein-Andaman-, die Baratang- en die Groot- en Klein-Nicobar-eilande. Daar is ook Viper-eiland, Interview-eiland en Guitar-eiland. Dis egter die eilandjie wat so effe wes van hierdie string lê wat my eindeloos fassineer: die Noord-Sentinel-eiland.

’n Lugfoto deur Nasa van die Noord-Sentinel-eiland in 2009.
WIKIPEDIA

Dié stukkie aarde is meer as 900 kilometer wes van Bangkok in Thailand en meer as 1,300 kilometer oos van Chennai in Indië. Dit is omtrent so groot soos sewe rugbyvelde met immergroen tropiese woude, koraalriwwe en ’n gematigde klimaat. Jy gaan tevergeefs na ’n reisbrosjure soek, want die Sentinelese stam is een van die laaste ongekontakte stamme in die wêreld en hulle wil jou rêrig nie daar hê nie.

In 1970 het die Indiese regering ’n kliptablet op die strand laat val om te verklaar dat dié eiland nou aan Indië behoort, maar die Sentinelese jagter-versamelaars het waarskynlik intuïtief geweet wat om met gemorspos te doen. Die Indiese regering beskerm wel die eiland in die vorm van wetgewing wat enige besoeke aan die eiland verbied. Pogings tot kontak in die verlede het daartoe gelei dat die eilandbewoners die besoekers met spiese en pyle gegooi het – ’n daad wat universeel net met “bly weg” vertaal kan word.

Verdere bewyse dat hulle nie eintlik saam met ons wil kuier nie, is die skeepswrak wat in ’n baaitjie aan die noordekant van die eiland in die kristalhelder water rus en steeds duidelik op Google Earth gesien kan word. The Primrose, ’n 16,000-ton-vragskip, het op 2 Augustus 1981 met ’n vrag hoenders tydens ’n storm op die koraalbank gestrand. Twee dae later het die bemanning ’n noodboodskap gestuur dat hulle dringend wapens nodig het om hulle teen die “wilde eilandbewoners met spiese en pyle” te beskerm.

Gelukkig vir die vreesbevange bemanning op die vragskip het dieselfde weersomstandighede wat hulle laat strand het die klein bootjies van die Sentinelese verhoed om die magtige skip te bereik. Die stormwinde het ook laasgenoemde se pyle weggewaai. Die slegte weer het egter ook ’n paar reddingpogings in die wiele gery, maar die bemanning kon ’n week later per helikopter huiswaarts keer. The Primrose is nie die enigste skip wat daar gestrand het nie. In 1867 het die Nineveh haarself op die koraal te pletter geloop en in 1977 het The Rusley ook op ’n koraalbank hiér tot ruste gekom.

Drie dae ná die tsoenami in 2004 het die Indiese kuswag met ’n helikopter oor die eiland gevlieg en gevind dat die inwoners daar goed uitsien, maar hulle het glad nie opgewonde gelyk om die vreemde vlieënde voorwerp in hul lugruim te hê nie. Hulle het op die strand gestaan en weer eens woedend met pyl en spies reageer.

In 2006 is twee Indiese vissermanne wat in die waters van die Noord- Sentinel-eiland vis gestroop het, summier doodgemaak.

As jy steeds dink dat die Sentinelese jou met ’n halssnoer van veelkleurige blomme en ’n vrugtebord gaan ontvang, lees maar wat met die Amerikaanse toeris gebeur het wat in Februarie 2019 probeer het om dié eiland te bereik. Hy kan jou nie self vertel nie, want hy lê glo ses voet diep in ’n woud op die eiland begrawe …

Ná omtrent 30,000 jaar op die eiland en sporadiese kontak met ander mense, het die Sentinelese genoeg van ons idee van beskawing gesien om met sekerheid te weet dat hulle geen aandeel daaraan wil hê nie.

Ek het al ure om oor die Sentinelese gedink. Ek probeer my indink hoe hul dae en lewe lyk. As ek om my kyk, is alles wat ek sien dinge waarvan die Sentinelese niks weet nie: deure, skilderye, vloere, trappe, verwerkte hout, matte … Alles om my sal vir hulle vreemd wees. Hulle het nog nooit ’n sportnutsmotor gesien of ’n diamantring of ’n tandarts nie. Hulle weet niks van die internet, kerke, biblioteke, simfonieë of krieket nie. Hulle sal waarskynlik nie weet wat om met ’n springtou of ’n roltrap of ’n tandeborsel te doen nie. Handsakke, kredietkaarte, sementmengers, politieke optogte, kernwapens, potlode, vragmotors, tuinslange – die lys is eindeloos.

Hulle weet (genadiglik) niks van ons lewens nie, en alles wat ons van hulle weet, het ons net op ’n afstand waargeneem. Ten spyte van al die mislukte pogings om die mense op die Noord-Sentinel-eiland te bereik, kon die vroulike antropoloog Madhumala Chattopadhyay dit in 1991 regkry om saam met haar span met hul bootjie naby genoeg aan die eiland te kom. ’n Paar mans, van wie vier gewapen was, het hulle ontmoet.

Chattopadhyay en haar groep het kokosneute na die strand toe laat dryf. Tot haar verbasing het die Sentinelese die kokosneute bymekaargemaak. (Kokosneute kom nie op die eiland voor nie en ek wonder wat hulle gedink het dit was.) Die ontmoeting het so goed gegaan dat van die stamlede selfs aan Chattopadhyay se boot geraak het. Daar word bespiegel dat die feit dat sy ’n vrou is die rede was hoekom hulle haar so vriendelik ontvang het. Sy vertel in ’n onderhoud in 2021 dat ons die Sentinelese moet uitlos en hulle nie moet probeer “beskaaf” nie. Hulle het beslis nie ons beskerming nodig nie en behoort alleen gelaat te word. Sy sê: “Ek is ’n voorstander vir kontak maak met vyandige stamme mits dit op ’n verantwoordelike en nie ’n manipulerende wyse geskied nie. Ons moet seker maak dat hulle onaangeraak bly. Ons moenie inmeng en virusse versprei nie … Ons moet slegs doen wat vir dié mense goed is.”

Sy vertel verder hoe die Britte die Groot-Andamanese probeer beskaaf en opvoed het. Kontak met die groep het ’n epidemie veroorsaak en van die oorspronklike 3,000 mense was daar later net 19 oor. Dink net wat ’n enkele Covid-virus aan hierdie mense sal doen.

’n Skrikwekkende voorbeeld van wat kontak vanuit die beskawing aan hierdie groepe kan doen, kom juis op die Adamanese eilande voor. Anders as vir die Noord-Sentinel-eiland was daar reisbrosjures om op “human safari” te gaan. Jy sou op ’n bus deur die “reservaat” kon ry en die Jarawa-mense langs die pad sien. Mense wat geslagte lank van die natuur gelewe het, het skielik langs die pad begin bedel. Om lekkers en klere na hulle toe te gooi was later onbeskaamd deel van so ’n safari.

In die Jare van Die Pes, ook bekend as die Hel van 2020/21, het die Sentinelese meer rede as ooit om in algehele afsondering te bly leef. Dink net: Hulle is reeds van die Steentydperk af ingegrendel en weet niks van Woolworths-hoender, handreiniger of maskers nie. Hulle het sosiale afstand tot ’n leefstyl vervolmaak.

Hulle werk al van die begin van tyd af van die huis af. Hulle tuisonderrig hul kinders al generasies lank. Hulle hoef nie skielik daaraan gewoond te raak om geliefdes hoofsaaklik op ’n tweedimensionele skerm te sien nie.

Ek beny hul bestaan met my hele hart.


Hierdie artikel is op 1 September 2021 op VryeWeekblad publiseer https://www.vryeweekblad.com/mense-en-kultuur/2021-08-31-op-n-tropiese-eiland-in-n-tyd-van-afsondering/

Van die bronne, vir interessantheid.

https://en.wikipedia.org/wiki/List_of_islands_of_India

https://www.nationalgeographic.com/culture/article/first-woman-chattopadhyay-contact-sentinelese-andaman

https://www.boredpanda.com/isolated-tribe-sentinel-island-andaman-madhumala-chattopadhyay-india/ – hierdie artikel het baie goeie foto’s

edexlive.com/people/2021/mar/06/i-dont-believe-we-need-to-try-to-civilise-these-tribes-says-anthropologist-dr-madhumala-chattopad-18787.html   

https://www.news.com.au/travel/travel-updates/incidents/hair-raising-story-behind-mysterious-shipwreck-off-north-sentinel-island/news-story

https://fellowprimo.com/north-sentinental-island/

https://www.youtube.com/watch?v=WdgDqrPAZcE – oor human safaris

Andaman- en Nicobar-eilande in die Golf van Bengale
Google maps
Posted in Afrikaans

Om verwoesting uit jou hande te laat blom

Dis moeilik om te verstaan. Om deur die vlamme en die brandende geboue en smeulende vragmotors te kyk, om verby die rook en skade deur die stukkend geslaande glas te sien, verby die wellus en wraak en die walglike vergryp, deur die desperaatheid en moedeloosheid en wetteloosheid tot in die harte agter die grypende hande.

Dis moeilik om te sien.

Dis moeilik om te verstaan.

Die hunkering na die mees basiese, die verlange na ʼn lewe wat net ʼn klein bietjie makliker is, waar ouers nie hoef te kies watter kind vandag eet nie, waar oumas en tantes en lewensredders nie hoef te probeer om met twee broodjies en vyf visse elke dag ʼn skare kos te gee nie, maar net een keer oor die massas sou wou kyk en weet dat magies vol is. Dít is verstaanbaar. Ek kan begryp dat mense honger is, koud is, so verskriklik arm is dat meel en brood luuksheid geword het. ʼn Pakkie onderbroeke, ʼn hempie en ʼn paar skoene vir ʼn kaalvoetkind; dit ruk my hart en boks my asem uit. 

Maar mense wat massiewe TV’s in motors probeer prop, mandjies in Mercedese laai en op sosiale media spog met video’s propvol beelde van oorlaaide yskaste, bokse en bokse gesteelde goed in ʼn dubbelverdieping huis, op met die trappe, oral staan goed en nog goed sonder ʼn strokie of ʼn papiertjie wat eienaarskap kan bewys. Die vraatsug, die hebsug en selfs roemsug is om van te kots. Oorvrete vrate wat gulsig gryp. Ondenkendes wat skole vernietig en by apteke en klinieke inbreek en verwoes en steel, dit kan ek net nie verstaan nie. Dit maak mos nie sin nie.

Dis vir my moeilik om te verstaan wat die persoon voel en dink wat die vuurhoutjie trek en ‘woesj’ hoor en met voldaanheid terugstaan en kyk hoe ʼn hele pakhuis brand en swart rookwolke in die reeds besoedelde lug (ʼn bekommernis van bevoorregtes?) spoeg en hoes en stotter. Het hy geskrik vir die verwoesting wat uit ʼn vuurhoutjie gespring het? Was dit oorweldigend en het hy verstar gestaar na die dodelike verdelging wat voor sy oë afgespeel het? Of was dit selfs beter as wat hy in sy wildste drome gefantaseer het? Was dit ʼn endorfiniene-high wat hom telkens weer en weer vuurhoutjies laat trek het in ʼn desperate poging om weer so goed te voel? Is dit ʼn goddelike gevoel van mag om verwoesting uit jou hande te laat blom?

Ek praat met my broer in Durban en ek hoor die onheil deur die foon. “Ek weet nie, sus, ons gaan uit kos uit hardloop” is nie woorde wat ek ooit gedink het ek sal hoor nie.

Ly Suid-Afrikaners aan gedeelde en vermenigvuldigde traumatiese stresversteuring? (GVTSV, ook bekend as gatvol en getraumatiseer.) Ons kan onmoontlik nie aan posttraumatiese stresversteuring ly nie want ons steier en strompel van die een verwonding na die volgende met geen einde in sig nie.

Die woord “ubuntu” kom uit die Ngunitaalfamilie en beteken “mensdom”. Dit verwys ook na die filosofiese konsep “ek is want ons is”. Kan ek dit uitbrei? Ek is moeg want ons is moeg. Ek is gatvol want ons is gatvol. Hoe ver kan mens filosofeer voor jy aan die absurde raak? Ek is honger want ons is honger. Ek is arm want jy en die mens langs jou en agter jou en al die mense om jou en my is arm en honger en so ongelooflik tot by die diepste wortels van ons siel moeg. Of, is dit ooit moontlik … Ek is beter want ons is beter.

Ek kyk hoe mense strate met palmtakke skoonvee en rommel op bakkies laai wat soos ʼn alternatiewe heelal voel, want net die vorige dag het oorlaaide bakkies vol gesteelde goed in daardie selfde strate gery.

Quis custodiet ipsos custodes is in die laat eerste, vroeg tweede eeu deur Decimus Junius Juvenalis neergepen en beteken “Who watches the watchers?”. Wie hou die dophouers dop? Ook: “Who guards the guardians?”

Ons weet dat dit moeilik is om die politieke magte verantwoordbaar te hou. Ek is egter baie meer bekommerd oor die helpers. Wie help die helpers? In Suid-Afrika is ons koorsvoos, ons is inperking-, korrupsie- en liefdadigheidvoos. Ons is flou en moeg en gedaan en vuisvoos. Baie mense gee en gee en gee dan nog ʼn bietjie. Soos hulle wat die strate skoongevee het, en die chaos opgetel het en skoongemaak het agter hulle wat verwoesting gesaai het. Wie kyk na hulle? Dit was nie ryk mense met ingevoerde besems en industriële stofsuiers wat opgeruim het nie. Dit was gewone, dikwels self arm mense.

Wat jy saai sal jy maai.

Ek sien ʼn video van mense wat in ʼn 1994-lengte ry staan. Nie om te stem om van die land ʼn beter plek te maak nie, maar om êrens in die verte, doer voor by ʼn winkel te kan kom om iets, asseblief enige iets, te kan koop om te eet. Hoe staan mens in ʼn kilometers-lange ry en jy bly geduldig en hoopvol en met elke treetjie vorentoe skilfer die hoop nie lagie vir lagie af nie? Hoe doen mens dit?

Ek sukkel om te verstaan. Ek kry nie ʼn antwoord op die “Hoekom? Hoekom? Hoekom?” in my kop nie. Ek lees bladsye en bladsye se ontledings en interpretasies van mense wat weet, of dínk hulle weet. Daar is meer opinies as gebuite yskaste en afgebrande winkels. Maar tussen al die sinne en woorde en opgestapelde paragrawe kry ek geen eenvoudige antwoord nie. (Nie dat enige iets in Suid-Afrika ooit eenvoudig is nie!)

Wat moet ons sê? Vergewe hulle, hulle weet nie wat hulle doen nie?

As Suid-Afrika ʼn huis was, is die struktuur nou onbewoonbaar. Die koue kom by die openinge in want die deure is gesteel. Die vensters is weg en die dakplate is “heraangewend”. Vuur is in die middel van die leefkamer gemaak en die vlamme het die mure verswak sodat dit met ʼn sug omgeblaas kan word.

Ja, daar is so baie mense en organisasies wat deure bring, die mure herbou, die roet en glasstukke wegvee, en selfs die plantjies weer in die grond druk. Dit voel egter vir my of die letsel daar gaan sit. Selfs ná al die lae verf en die nuwe gordyne.

Dit is die rommel wat steeds in die agterplaas lê, wat my bekommer. Dié wat gegryp het omdat hulle honger is, en koud kry en nie klere aan het nie, húlle is nog steeds met ons.


Hierdie artikel is op 30 Julie 2021 op VryeWeekblad publiseer https://www.vryeweekblad.com/menings-en-debat/2021-07-29-om-verwoesting-uit-jou-hande-te-laat-blom/

Posted in Afrikaans

Die bloedprys van weet

Ek het nog nooit swaar gedra aan nalatenskap en ’n gevoel dat ek iets moet agterlaat wat ’n merk op die wêreld maak nie. Ek is baie bewus daarvan dat ek een van meer as agt biljoen mense op aarde is en dat nie almal van ons merkwaardige lewens hoef te lei nie. Die meeste van ons hoef net ons beste te doen en moet probeer om so min as moontlik skade te maak. Maar ʼn paar weke gelede het ’n stuk bagasie swaar op my skouers kom lê. My ma het ’n swart boks bo uit ’n kas gehaal. Die deksel het nie mooi op gepas nie en dit was met ’n stuk lyn vasgebind. Die boks kom van die plaas in die Vrystaat waar my ma groot geword het en was maar een van ʼn paar goed wat uiteindelik in my ouerhuis beland het lank na die plaas verkoop is. Binne-in was klere en ’n paar ander stukkies herinneringe wat uit die Brandfort-konsentrasiekamp kom. ’n Kinderrokkie met ’n fyn blompatroon. ’n Swart rok met kantwerk. ’n Onderjurk. ’n Paar swart-en-wit foto’s met strak mense. ’n Poskaart sê in my ouma se geliefde handskrif aan wie die klere in 1901 behoort het en dat een van die persone in die kamp dood is. In die boks is ook ’n lappoppie so lank soos ’n man se hand. Op die ruggie is in pen geskryf: “Christie 6de geslag”. Christie was my ouma. Dit maak my die agtste geslag. 

Die klere is in ongelooflike goeie toestand. Soveel te meer as mens ingedagte hou dat dit 120 jaar oud is. Dit het vir dekades in ʼn boks bo in ʼn kas gelê en ten minste drie keer in verhuisingslorries getrek. Nou, in die jaar 2021, het my ma besluit daar moet iets mee gedoen word. Die Voortrekkermonument het nie plek nie. Die Vrouemonument het nie ʼn museum nie. Maar die Oorlogmuseum in Bloemfontein klink opgewonde oor die klere. Ek skryf die inventaris neer terwyl my ma die klere versigtig opvou en in ʼn stewige kartonboks pak. Stukkies materiaal, iets wat dalk ʼn kussingslopie was, babaklere wat met die fynste stekies reggemaak is. Dis pragtig, maar niks in my hart roer eens ʼn klein bietjie nie. Hierdie goed is niks van my nie. Al wat vaagweg wink, is vrae ...

As my ouma die sesde geslag was, sou dit beteken dat dit agt geslagte is vandat my ouma se voorsate in Suid-Afrika aangekom het? Seker. Is dit haar vroulike lyn? Miskien. Miskien nie, hoe werk hierdie goed? Maar, en dis hier waar die boks teen my nek druk, dit stop by my. Ek is die laaste vrou in my ouma se lyn. Haar mitochondriale DNA eindig in my lyf. Dis klaar. Daardie unieke stukkie geen gaan onherwinbaar dood die dag as ek doodgaan. Ek het nie die begeerte gehad om my gene buite my lyf te sien rondloop nie. Ek het nie die gedruis in my ore gehoor dat ek moet voortplant nie. Inteendeel, ek was nog altyd met ’n diepe dankbaarheid vervul as ek aan my kinderlose status dink. (Veral daardie kere in ʼn winkel se drukgang op pad na die kassiere agter ’n uitgemergelde ma met ’n waentjie vol goed en drie kinders wat oor die kante hang terwyl hulle aan alles vat en oor alles skree en alles wil hê – daardie oomblikke is die verligting en dankbaarheid altyd onmeetbaar groot.)

Ek en my ouboet praat oor my pa se nalatenskap. Hy het brûe en paaie gebou. Ons kan daaraan gaan vat en dit gaan nog ’n paar jaar staan. Hy het ook vir ons stories vertel toe ons kinders was, oor Dokter Hasie wat met die hulp van ’n akkedissie die pendoring wat in die klein olifantjie se slurp vasgesit het, uitgehaal het. Sy nalatenskap sluit ook ’n intense liefde en waardering vir die natuur in. ’n Liefde en waardering wat beide my broers op ’n lewendige en aktiewe manier aan hulle kinders oordra. Nalatenskap is meer as die bloed en binnegoed wat ons met iemand deel. Dis die handeling wat ons waarneem. Dis die manier waarop ons mense behandel wat ons by ander gesien het. Dis die woorde wat ons gebruik. 

Ek voel geen verbintenis met die klere in die boks nie. Daar is nie iets wat aan my hart pluk en trek en sê: “Hou dit. Bêre dit. Dis deel van jou nalatenskap” nie. Maar die poppie is anders. Die poppie is ’n fisiese voorstelling van die band met my ouma vir wie ek vreeslik lief was en aan wie ek bykans weekliks dink. (Sy is al in 2008 oorlede.) Ek wil gereeld net ’n rukkie by haar voete sit met my kop op haar knieë en haar hand in my hare voel. Ek wil met haar gesels oor al die goed wat ek nie vir haar gevra het nie, want ek het nie toe geweet dat die vrae bestaan nie, maar ek weet dat sy wel die antwoorde gehad het. Ek wil net haar sagte lyf voel en weer hoor hoe sy my “Kind” noem. 

Die probleem met goed is dat dit plek vat. Die goed wat in bokse bo in kaste en in buitekamers staan, vat net plek. Ons het te veel goed. Ons het goed ter wille van goed en nie omdat dit waarde het nie. Ons probeer onsself aan mense vasbind deur die goed wat ons vir hulle gee en van hulle verwag. Ek dring al vir jare daarop aan dat ek niks vir my verjaarsdag of Kersfees wil hê nie. Wat gaan ek met die poppie doen? Gaan ek dit êrens bo in ’n kas sit waar dit nie beskadig sal word nie? Moet ek dit laat raam en op ’n prominente plek ophang waar ek dit gereeld kan sien? Moet ek dit aan ʼn monument skenk (waar dit dalk in ’n boks gaan beland saam met ander mense se spesiale, ou, dog nuttelose, goed)?

Moet ek dit in my testament aan een van my niggies bemaak en so die las op haar skuif om te besluit wat om met die stukkie opgestopte materiaal te doen? Wanneer word nalatenskap ’n las en is dit nie die bate wat die gewer gehoop het nie? 

Die probleem met vrae is dat hulle op antwoorde aandring. En soms kom daardie antwoorde op vreemde plekke en maniere uit.

Tot verlede week het ek nie geweet waar my oorgrootjie met die oorspronklike mitochondriale DNA begrawe lê nie. Ek kon nie eens dink hoe ek dit moes probeer uitvind nie. Maar my ma het my pa se geslagsregister by ʼn aangetroude familielid gekry en ná dit weke in my inboks gelê het, het ek daarna gekyk. 

En toe in Alice in Wonderland haastonnels afgetuimel. 

Ek kon artikels oor ons stamvader op die internet kry. Hy is in 1775 in Kopenhagen in Denemarke gebore en sy voorouers is waarskynlik in 1521 deur Koning Christiaan II (1481 – 1559) uit Nederland na Denemarke genooi om die Dene te leer om groente te verbou. Teen 1795 bevind ons voorvader hom in die Kaap de Goede Hoop. Hy trou met ʼn vrou wat ʼn afstammeling van die slavin Grote Catrijn van Bengale was. Broodkrummelspore deur die internet wys dat sy as slavin vanaf Paliacatte aan die kus van Oos-Indië weggevoer is na Batawië. Hier word sy ter dood veroordeel vir moord. Dit blyk dat sy haar verkragter met ʼn klip in die maag geslaan het, dat sy blaas gebars het en dat hy vier dae later dood is. Haar doodstraf is begenadig en sy word as slavin na die Kaap gestuur waar sy op 21 Februarie 1657 met die skip Prins Willem in Tafelbaai aankom. 

Ons voorvader het vyf seuns en ʼn dogter en hy sterf in 1809 in Swellendam. Die tweede jongste seun vertrek uit Swellendam en vestig hom amper tweeduisend kilometer verder in Lydenburg, in die ou Oos-Transvaal. Google Maps vertel my dit is 1 725 kilometer met die N9 langs oor Bloemfontein en dat dit meer as 18 ure per motor sal neem. Siende dat my oerouer ʼn ossewa sonder ʼn GPS gehad het, en sekerlik ook nie rêrig baie gehaas was nie, het dit waarskynlik ʼn paar jaar geneem om daar te kom. In 1902 sterf hy op 96 jarige ouderdom in Lydenburg, waar my pa 43 jaar later gebore word. 

Die stamregisterdoolhof het baie afdraaie en ek begin op die spore van my ma se familie loop. Haar stamvader is in 1663 in Rouen in Frankryk gebore vanwaar hy na Amsterdam vlug vanweë godsdiensvervolging. Hy en sy jong vrou kom in 1688 in die Kaap de Goede Hoop met die skip De Schelde aan. Van 1690 besit hy een van die oudste wynplase in die Stellenbosch-omgewing wat ongelukkig (gelukkig?) lankal nie meer in die familie is nie. Van daar loop die spore deur George na die Vrystaat toe waar my ma in die 1940’s gebore is. 

Die interessantste is egter die draaie wat ek op my moederlyn geloop het. Ek het nog altyd geweet wie my ma is en wie my ouma is. Maar nou weet ek dat daar elf vroue agter hulle staan, direk al die pad terug Indië toe, waar Catrijn van Malabar in 1637 gebore is (ʼn ander Catrijn as die een in my pa se voorgeslagte). Sy was ʼn persoonlike slavin en arriveer op 2 April 1662 in die Kaap. Hier raak sy swanger met ʼn man wat van Sambuwa (die hedendaagse Indonesië) af gekom het. Daar is maar min oor hom bekend behalwe dat hy in 1688 oorlede is. Catrijn se dogter word in knegskap gebore en behoort later aan die Kommandeur van Quaelbergen. 

Ek is die veertiende vrou in die moederlyn wat vandag hier staan. Vroue wat hier gelag en gehuil het. Lief gehad het, kinders gebaar het en waarvan twaalf moeders hier begrawe lê. Vasgemessel in hierdie land. 

Bladsye en bladsye se inligting en kruisverwysings later weet ek dat daar ʼn lekseltjie Indiese en Indonisiese en seker ʼn bietjie meer Deens, Nederlandse, Franse en Duitse, maar meestal Suid-Afrikaanse bloed in my are loop. ʼn Regte mengelmoes – soos die meeste Suid-Afrikaners, seker. Ek weet dat daar familie in die konsentrasiekampe dood is; een lê waarskynlik in België begrawe waar hy tydens die Eerste Wêreldoorlog gesterf het. Ons het grafte met familievanne regoor die land, in omtrent elke provinsie. Ons is vasgebloei aan hierdie grond wat ek soms so graag van my voete wil afskud. 

Die meeste Suid-Afrikaners het ’n bloedband met die grond hier aan die Suidpunt. Party van ons hou net aan bloei en bloei en krap die rowe af en drup net gou nog ’n bietjie bloed in die sand om ons verknogtheid te bewys. Suid-Afrika is deel van ons almal se DNA, of ons dit nou wil hê of nie. Die boks bo in die kas het net ander goed in. 

Ek wil altyd my moer strip as iemand sê “Ek het my pa/ouma/tante se ken/oë/knieë”. Nee, jy het jou eie ken/oë/knieë. As jy hulle sʼn gehad het, waarmee kyk hulle dan nou rond? Kleinlik, ek weet, maar ek het nog nooit gedink ek het iets van ʼn familielid gekry nie. (Om die waarheid te sê, ek wou ʼn T-hemp laat druk met “die feit dat ons familie is, is ʼn genetiese toevalligheid” maar dis te veel woorde en sal maak dat mense onvermydelik te lank na my borste staar in ʼn poging om dit te lees. Ek wou dit op ʼn familiebyeenkoms dra om die guitige soeners weg te hou. Daar is altyd iemand wat skuinssoen en dan is daar ʼn vetterige neusafruk op beide my brillense wat net met skottelgoedseep en baie warm water verwyder kan word.) 

My bloed is myne. Ná my stamboomnalopery, weet ek dat my bloed ook ander flentertjies en flertsies in het, maar dis steeds tog net my bloed. 

“Go back,” skreeu aggressiewe mense in rooi oorpakke graag as hulle ons almal in die see wil jaag wanneer daar oproer oor sjampoe of tradisionele klere is. 

“Waarheen?” wil ek opreg vra. Na die Denemarke van 1775 toe, waar ons stamvader se voorgeslagte hulle as groenteboere gevestig het? Na die plek in Provence vanwaar my oeroupa weggevlug het? Indië toe waar my bloedlyn begin het? Daar is nêrens waarheen ek kan teruggaan omdat ek van daar af kom nie. Ek kom van hier. Ek kom nie eens meer van die Kaap af nie. Ek is van die noordelike dele van Suid-Afrika en hier gaan ek waarskynlik my laaste bloed drup. 

Ek dra steeds nie swaar aan my nalatenskap nie. Ek dra wel ʼn bietjie swaarder aan my erfenis. ʼn Paar weke gelede het ek nie geweet nie, maar nou kan ek nie on-weet nie. Ek kan nie ontken of ont-ken waar ek vandaan kom nie. Die prys van weet is die ekstra kennis wat ek nou moet dra. Maar ek sal saggies dra, en so min bagasie as moontlik oordra. 

Ons is wie ons is. Met ons eie bloed. 



Hierdie artikel is op 23 April 2021 op VryeWeekblad publiseer
https://www.vryeweekblad.com/mense-en-kultuur/2021-04-23-die-bloedprys-van-weet/

een van die poppies in die boks
teks op die poppie se lyf
kinderrokkie uit die konsentrasiekamp